Ná jare se gesukkel met watertoevoer en rioolbesoedeling het die inwoners saamgespan en die probleme in ’n japtrap opgelos toe die hooggeregshof die jawoord daarvoor gegee het. Almal het geglo die deur is nou oop vir ander dorpe om reg te laat geskied en beheer oor dienste te verkry as munisipaliteite misluk.
Ander dorpe soos Standerton en Hartbeespoortdam wou dadelik die voorbeeld volg. Tydens ’n Landbouweekblad-besoek aan Koster terwyl almal met herstelwerk besig was, was daar byna ’n feestelike atmosfeer op die dorp. Inwoners, wit en swart, het met groot glimlagte pompe herstel, gras wat al borshoogte gestaan het, gesny, opgaardamme skoongemaak en selfs verroeste heinings geverf. Die manne aan die stuur van sake was mnre. Carel van Heerden, voorsitter van die Kgetlengrivier-belastingbetalersvereniging en sakeman van Koster, Wilhelm Rochër, ’n boer van Swartruggens, Andreas Peens, hul regsman, en Willie Jones, ’n ingenieur met ’n fabriek op die dorp waar onder meer voerkorrelmasjiene ontwerp en gebou word.
Hul motivering: Van Heerden het gesê in die 23 jaar dat hy op Koster woon, was daar net in die eerste vier jaar altyd water as jy ’n kraan oopgedraai het. In onlangse tye was hulle gelukkig as hulle elke derde dag ’n uur water gehad het. Jones het op sy beurt vertel hy het elk van sy werkers van ’n 2 000 liter-watertenk voorsien, ’n tenkwa gekoop en vir twee jaar water aan hulle verskaf.