Selfs al was sy swanger, het dit nie vir Beverley-Anne Joseph (38) sowat drie jaar gelede gekeer om saam met slegs twee vroue ’n paar hektaar pienk koningsproteas self te plant nie.
“Dit word as ’n algemene standaard in die bedryf aanvaar dat sowat ’n kwart van proteaplante nie vat nie. Ek het net vir my man gesê ons kan nie die risiko vir só ’n terugslag loop nie, en self ingespring.
Aanplanting is die belangrikste fase, want as dit reg gedoen word, loop dinge sommer reg vorentoe,” vertel sy waar ons op haar plaas, Zelpy, by Waboomskraal tussen George en Oudtshoorn staan.