Hierdie is die derde (en finale) boek in meesterskrywer Alexander Strachan se trilogie oor die lede van 1 Recce. Die boek kyk na die tydperk van 1981 tot 1996, toe die eenheid ontbind is ná die laaste Recce in ’n vuurgeveg omgekom het.
Die Recces se doelwit was altyd om onsigbaar vir die vyand te wees, kontak te vermy en hul take ongesiens uit te voer. Daar is dus steeds min bekend oor die Recces se teenwoordigheid en invloed tydens omstrede gevegte soos die Slag van Cuito Cuanavale.
Strachan, self ’n oud-Recce, onthul meer oor die eenheid se betrokkenheid by verskeie operasies. Vanaf die eerste bladsy word die leser meegesleur deur Operasies Kerslig, Katiso, Sea Warrior (1 &2) en Gwarri tot by die kulminasie van die boek – die gevegte rondom Cuito Cuanavale.