’n Vuur gesels met jou. Daar is dus altyd geselskap, al braai jy alleen. Wanneer jy braai, voel dit asof jy kans kry om af te skakel. Ek dink ook Suid-Afrikaners hou daarvan om met hul hande bedrywig te wees.
Dit is ’n plesier om ’n vuur te pak en aan te steek, salig en rustig te wag vir die regte kole, en dan jou vleis te braai of jou potjie te prut. Die geur van ’n braai is heeltemal uniek. Wors smaak nie soos wors indien dit nie oor die kole gaargemaak is nie.
Daar is die prag van die nostalgiese kosse waarmee ons grootgeword het. Die smake wat jou palet so goed ken en na smag. Daarvan bevat die boek verskeie resepte.