Met die nuwe jaar het daar waarskynlik ’n plekkie op jou bedkassie ontstaan vir ’n nuwe uitgawe van Uit die beek – die oudste Bybeldagboek in Afrikaans. Terloops, die eerste uitgawe het reeds in 1925 verskyn, dus word ’n eeu van dié geliefde geestelike dagboek eersdaags gevier.
Barend Vos het weer vanjaar se uitgawe behartig. Elke dagstukkie bied genoeg pitkos vir geestelike versterking, oordenking of bemoediging. Getroue lesers van Uit die beek sal weet van die poging om die Bybel in vier jaar deur te lees.
Vos behandel vanjaar teksverse uit Eksodus, Rigters, Job, Spreuke, Jeremia, Amos, Matteus, 2 Korintiërs, Efesiërs, Filemon, Hebreërs en Jakobus. Dit is nie net die ideale gids vir jou persoonlike stiltetyd nie, maar net so geskik vir huisgodsdiens of om as Bybelstudiegroep aan te pak.