Ons het een jaar, ná ’n familietroue op Tulbagh, vir vier dae op een van Albé Louw se weidingsplase gaan oorstaan. Dit was naby Granaatboskolk, wat net ’n naam op die landkaart is.
Dit was vier dae sonder selfoonsein, elektriese krag of lopende water – behalwe dit wat in 5 liter-waterbottels opgegaar is en in die son warm geword het, en wat ons oor mekaar uitgegiet het in die bad om mee af te spoel. Die stilte was die bekoorlikste van alles.
Dáár het die gedagte ontkiem om dit eendag vir ’n langer tydperk te onderneem; om net weer gestroop van alle luuksheid by ons wortels en die basiese dinge van die lewe, en by onsself, uit te kom. Dit was nooit ’n beplande nege maande nie – dit het net toevallig só uitgewerk.