So op die ingewing van die oomblik sê ek vir my wederhelf, die Tankwa-Karoo wag vir ons. My gypsy-vrou mors nie baie tyd as daar ge-travel word nie en weg is sy om gou ’n paar goedjies bymekaar te kry.
Die Toyota Hilux staan slaggereed met ’n tenk vol diesel en ’n CI Bakkie Mate-karavaan agterop die bak. Dit is in die tagtigerjare ontwerp om op ’n bakkie te pas. Ons ry rond met net die nodigste klere. Een aan die bas en een in die was.
Eetgoed is biltong, droëvrugte en genoeg soetgoed so tussendeur. Vroegoggend swaai ons die D4D se neus in Sutherland se rigting. Die pad is lank, maar ons het genoeg om oor te gesels.