Feesgangers sal sien hoe die hele teeproses, van sny tot droog, verloop – iets wat jy nêrens anders kan meemaak nie! Suid-Afrika se beste teesnyer – ’n takie wat geensins ’n grap is nie – sal ook aangewys word.
Vir boere is daar ’n groot uitstalling met nuwe landbou-ysters en ’n insiggewende landbougesprek. Die Koekedoor-wenner Corli Botha gaan ook daar wees om mense te inspireer om rooibostee in heerlike gebak te gebruik. Sy vertel meer.
Dis nie net heerlik as tee of om in kos en gebak te gebruik nie, maar die voordele en gebruike daarvan strek veel verder. Danksy die gesondheidsvoordele is dit ideaal vir velsorg- en skoonheidsprodukte. Wêreldwyd word duisende verskillende produkte van rooibos vervaardig, maar die beste van alles, dit is eg en trots Suid-Afrikaans en kom uit ons eie Cederberge.