Twee paar bruingebrande bene steek onder die oop deure uit. Soos ek nader ry, draai die koppe onder die saadmaatskappy se kepse na my kant toe. Dit gaan glad nie werk om te wuif en verby te ry nie. Nie hier in die diep platteland nie. Ek draai die ruit af.
“Goeiemiddag, ek is op pad na die plaas Onverdiend en die GPS sê dis hierlangs.” Dis laatmiddag in die Oos-Vrystaat en ek is haastig om nog die mooi lig vas te vang op die foto’s wat ek netnou moet gaan neem.
Die GPS het dié grondpad as ’n korter pad na die rooi speldekoppie op die kaart aangedui. Dit kan nie méér onbegaanbaar as die slaggatbesaaide teerpad wees nie, het ek gedink en afgedraai. Die twee manne met die kepse bekyk die stadskarretjie met sy lae grondvryhoogte effens wantrouig.