Suid-Afrika is wêreldwyd bekend om sy rykdom biodiversiteit, veral wat voëllewe betref. Altesaam 870 voëlspesies is al in die land aangeteken.
Van suikervoëls en berglysters wat in die suidelike fynbos baljaar, loeries en janfrederike wat in digte woude roep, en albatrosse en stormvoëls wat met onstuimige golwe dans, tot bromvoëls en berghane wat oor die noordelike savannas sweef, is daar geen tekort aan betowerende geveerde diere nie.
Op die grasveld en vlaktes sal jy egter een van Afrika se mees uitsonderlike voëls aantref. Met lang bene wat kan stap en skop met mening, ’n swart kniebroek en uitsteekstert wat heen en weer swaai, en ’n klomp lang agternekvere wat kiertsregop kan staan soos ’n penkroon, is die sekretarisvoël onmiskenbaar.