Ons boer al vier geslagte lank op Liebenbergsvlei in die Suid-Vrystaat. Omdat die velle van die Dohne-Merino-skape baie min werd is, het ons besluit om dit eerder self te was en te verwerk. Die proses was egter ingewikkeld en duur, en daarom nie vir ons volhoubaar nie.
Toe ek hoor dat Judy Bester van die nabygeleë Fauresmith, wat jare lank pantoffels gemaak en verkoop het, om gesondheidsredes nie daarmee kan volhou nie, het ek haar gekontak en sy het ingestem om my te leer om pantoffels te maak.
Ek het ongeveer 18 maande lank gereeld by haar gaan leer hoe om verskillende artikels van wolvelle te maak. My hele reeks word met die hand gemaak. Ek gebruik net die beste verwerkte skaapwol en -velle.