Ek glo elke vrou het ’n droom. Binnenshuise versiering, ’n kwas, ’n blik verf en ’n kussing is in my bloed. By In Die Hartjie gaan dit dus nie net oor die besonderse handgemaakte geskenk wat jy kan koop nie, maar ook oor kleurskemas wat jou siel goed doen.
Ons bied ook koffie en kolwyntjies vir klante om te geniet terwyl hulle in die winkel rondsnuffel. Ek het die winkeltjie in 2017 begin – in ’n vertrekkie so groot soos ’n skoenboks! Dit was ’n regte krapwinkeltjie, want ons vroue hou mos van rondkrap!
Hoewel ek wyd voorraad aankoop, hou ek graag handgemaakte produkte, soos beddegoed, speelgoed en houtartikels, aan. Ek sorg dat daar kort-kort iets ouliks op my rakke is om mense te lok.