Destyds is dié mandjies gebruik op al wat ’n plaas en fabriek is, maar deesdae is dit grotendeels leefstylartikels wat landwyd verkoop word.
My oupa Eduard Christiaan Marais en sy broer, Karel, het weens ’n genetiese toestand blind geraak. Hulle is toe na die Pionierskool op Worcester waar hulle geleer het om mandjies te vleg. Hulle het daarna teruggekom Paarl toe.
My oupa het vir iemand gewerk en nie lank daarna nie, in 1945, het hy die besigheid oorgekoop en Paarl Basket begin. My oupa was een van die eerstes wat rottang op groot skaal van Singapoer af ingevoer het. Hy het gekonsentreer op die styl wat tipies is aan die vereniging vir blindes, soos koffieflesmandjies, meubels en riempiewerk.