Haar man sê sy is eintlik nie met hom getroud nie, maar met fynbos. Só sê Giselle Courtney van South African Fynbos waar ons op haar ruim, stylvolle stoep sit op die plaas Clairvaux, digby Wellington se bekende perdeskoenroete.
Op die tafel is allerlei laboratoriumflessies uitgepak waarin boegoe, heuningbostee, kapokbos en kankerbossie pryk. Dit is waar Giselle haar meestersklas in fynbos aanbied, voor die gaste ’n draai deur die welriekende fynbos op die plaas stap.
Destyds, as 17-jarige regstudent aan die Universiteit van Kaapstad, het sy as toergids op een van Hylton Ross se busse gewerk. “Ek was ’n tutor vir een van Hylton se kinders, maar toe sy vrou agterkom ek kan Duits praat, het sy my op ’n bus gesit en toere laat doen.