Sy oorle’ ouma het altyd gesê: As jy ’n klein stukkie grond so groot soos ’n deur het, is dit genoeg vir ’n groentetuin. Dán sal jy genoeg hê om ’n hele gesin te voed. Jare later, elke keer wanneer mnr. Sergio Finck oor sy groentetuin van 5 m x 4 m uitkyk, dink hy aan sy ouma se woorde.
In die klein voortuin van sy ouers se baksteenhuis in Kaalbaskraal, ’n informele nedersetting buite Malmesbury in die Wes-Kaap, staan rye koolkoppe, elk so groot soos ’n sokkerbal. Die huistuin spog ook met bloedrooi tamaties, groen soetrissies, lowergroen spinasie, knoffel en uie wat van die straat af gesien kan word.
Met die vorige seisoen het Finck alles van aarbeie tot boerbone en beet geoes, asook verskillende soorte kruie waarmee hy gereeld kosmaak of wat hy gebruik om kwale reg te dokter.