Toe ek ’n hele klompie jare gelede vir die tweede keer by Landbouweekblad kom werk het, vat ek en my kollega die pad Oos-Vrystaat toe. Daar kry ek my vuurdoop met ’n klomp Drakensberger-boere oor wie ons artikels moet doen met geen idee wat ’n mens vir só ’n boer moet vra nie. Niks sinvols nie, in elk geval.
Eers later leer ek van skrotumomtrek en fenotipiese eienskappe en dies meer. Ná ’n dag in die son waar ons bykans elke bees met die hand gegroet het, sit ons af na die boer waar ons die aand gaan oorslaap. Langs die pad tref ons ’n jong kudde van die einste boer se Drakensberger-bulle aan en slaan dadelik die remme aan.
Ek spring uit met my kamera en stap na die kamp toe, maar die bulle wil nie nader kom vir mooi foto’s nie. In my onkunde reken ek toe ’n bul sal nader stap as ek die nodige lokaas vertoon. Ek kyk om my rond, sien ’n mooi onkruidagtige blommetjie en steek dit deur die heining. Nodeloos om te sê, die bulle was nie beïndruk met my poging nie.