Vanmiddag moet ek weer vir Piet Jakkalsjagter in die plakkerskamp oplaai. Somber tonele begroet my. Ons nasionale blom (plastieksakke) oorheers die landskap. Rommel lê in hope langs die strate uitgegooi. Leë bottels en plastiekwynkanne is in elke straat sigbaar.
Die skool is besig om uit te kom. Ons ry stadig om die kinders wat die straat vol stap. Almal netjies in hul skooldrag geklee. ’n Benoudheid oorval my. Moedeloosheid, angs, magteloosheid. Noem dit wat jy wil. Waar gaan al hierdie kinders werk kry, wonder ek.
Waarheen is ons op pad? Die mense is net te veel. In ons land. Die wêreld. Natuurlike en materiële hulpbronne kan net soveel hanteer en niks meer nie. Iewers moet iets in duie stort.