Sienie gaan hul Prado met die motorboot bestuur en Mike die Ford Galaxy en Gypsey-woonwa. Margate, hier kom ons! Mike en Sienie het hul lywe die vorige aand goed ingevryf met Coppertone.
Mike se goue lyf lyk bietjie onaards, maar die groot, oorgeblaasde goue ketting om sy nek trek die aandag af. Sy wit gekleurde borshare wat by sy Hawaii-hemp uitsteek, trek weer jou aandag van die ketting af. Sienie het haar sjoebroekie en plakkies aan met al die Plascon-kleure op haar gesig en naels.
Dit begin net lig word toe Mike die Ford se sleutel draai. Hy rev die V8-enjin en druk die toeter ’n paar keer net om seker te maak sy bure weet hy gaan op vakansie. Sienie skakel die Prado aan en maak die res van die buurt wakker. By die see parkeer hulle die woonwa met ’n lieflike uitsig oor die see.