Enige tydskrif, veral dekortydskrifte, is vir my een van die groot vreugdes van die lewe. Min dinge kom by die lekkerte daarvan om ’n nuwe uitgawe van so ’n tydskrif op die winkelrak te sien, by die huis ’n koppie tee te maak en met groot afwagting die eerste blad oop te slaan. En dan, vir ’n uur of wat, te “bly” in die mooiste huise en te “kuier” in tuine waarin die gras nie vol dooie kolle is nie.
Maar so deur die jare – en daar is al heelwat van hulle agter my – kom ek agter ek begin so ’n bietjie anders na die prentjies van huise en tuine in die tyd- skrifte kyk.
Ek begin al hoe meer wonder: Wil ek nou regtig in baie van daai huise bly? Soos in ’n huis met ’n naatlose kombuis. Lang rye blinkwit (dit is altyd wit) kaste met nie ’n handvatsel in sig nie en nog gladder en blinker oppervlakke (dit is altyd swart) met ook niks daarop nie.