Dis vroegoggend, net ná sonop. ’n Middeljarige man kom Beaufort-Wes stadig binnegery. Hy ry in die hoofstraat af, hier en daar onthou hy nog van die ou geboue uit sy kinderjare. Die meeste geboue is nou meer modern herbou en baie plekke was nie daar in sy tyd nie.
Vanuit die hoofstraat ry hy na ’n deel wat vandag nog as Hillside bekend is. Hier het hy as kind skoolgegaan en in die omliggende kliprantjies gespeel. Sy pa het as inspekteur op verskillende treine gewerk. Dit was meestal spoorwegmense wat in Hillside gebly het.
In Pastoriestraat hou hy stil voor huis nommer 52. Hier het hulle baie someraande waatlemoen op die grasperkie geëet of sommer net op die stoep gesit. Alles lyk nou anders, die grasperkie is nie meer daar nie en die stoep is toegebou. Nog later ry hy verby die skool.