Laat ek jou vertel van my oom Willie Stemmet se rooi Diamond T-lorrie. Die vooroorlogmodelle is met tange en bloudraad aanmekaar gehou. Busse op die platteland het nie bestaan nie. Almal het agter op oop lorries gery.
Een voertuig uit ’n buurt het maandeliks dorp toe gery met boere en plaaswerkers agter op, want brandstof, en veral brandstofpermitte van die magistraat, was skaars. Sappe het die meeste permitte gekry. Só het ons Natte geglo. Al 22 van ons buurt se kinders was in die Laerskool Laatsrivier in die Koo.
Ons ou prinsipaal, wat ook vir die meeste ouers skoolgehou het en hulle nie met pakke slae op die regte paaie kon hou nie, het die hel uit ons geslaan en niks in die plek daarvan teruggesit nie. Toe jaag die grootmense hom weg.