Ek raak weer bewus van die straaltjies sweet wat teen my rug afloop. Onder die leerhoed is my hare klam en deurmekaar.
Ek vervat my hande om die growwe hout van die draagbaar wat ek self gemaak het. Vroeg vanoggend, net nadat ons by die oornagplek weg is, het ’n onverwagse bui reën uitgesak.
Met ons sig beperk en die grond skielik onvas onder ons voete, het Gerrie sy balans verloor en is tuimelend teen die helling af. Sy swaar rugsak het sy momentum vererger. ’n Kareeboom het ’n tollende Gerrie tot stilstand geruk, maar ook sy enkel gebreek. Gerrie sou nie die roete kon klaarstap nie.