Die Kogmanskloof-pas met sy ruwe rotse en poort deur die Langeberge bied ’n skilderagtige rit van Ashton af na Montagu, ’n atmosfeerryke dorpie in die westelike Klein-Karoo wat spog met talle historiese geboue.
Sommer met die inryslag (van Ashton se kant af), tref jy die Kloof-padstal aan die linkerkant van die bedrywige Langstraat aan. Die padstal het ’n nederige begin gehad in die 1980’s toe ’n appelkoosboord neffens die padstal gestaan het en die destydse eienaar toestemming by die owerhede gekry het om van sy vrugte te verkoop (hy is egter nie toegelaat om vrugte in te koop en daar van die hand te sit nie).
Deur die jare het die beskeie padstal verskeie nuwe baadjies aangetrek en nuwe toevoegings – soos die eertydse teekamer – het bygekom. Eienaarskap het ook al ’n paar keer van hande verwissel. Deesdae is dit ’n woelige onderneming wat bykans al as landmerk op Roete 62 beskou kan word.