Jare terug begin my man sy eerste private praktyk. Op Prieska, Noord-Kaap. Langs die slikwalle van die Oranje. Ons begin met net die nodige toerusting, ’n bruin tandartsstoel en ’n boks vol oorgeneemde leêrs – die pasiëntrekords van dr. Tanne.
As voornemende spreekkamerhelper werk ek algaande deur die bruin A4’s. Kaarte wil immers gesorteer en geliaseer kom. Maar op sommiges is ’n dubbele streep duidelik deurgetrek: “PATIENT DROPPED”.
Patient dropped soos ons nou die dag gesien het. Iemand wat nog voor haar eerste afspraak gaan. Net ’n teksboodskap: “Kanselleer maar. Ek het reggekom.”