Om te spog met ’n matriekslaagsyfer van meer as 90% is ’n ware baken van hoop in ’n omgewing waar die skoolbanke soms met ’n gesukkel vol kom. Meer as ses dekades gelede, in 1957, het wyle me. Gertrude Cluver besluit om iets te doen aan die heil van plaaswerkerkinders wat destyds beperkte geleenthede vir skoolonderrig gehad het.
Dié matriarg en ma van dr. Paul Cluver, eienaar van die vrugte-wingerd-en-wynlandgoed De Rust by Grabouw in die Wes-Kaap, het met haar toekomsdroom volhard. “My ouma het die droom gehad om veral die kleiner kinders die kans te gee om deur skoolopleiding vir hulself ’n beter toekoms te skep,” vertel me. Karin Cluver, dogter van dr. Cluver en produksiebestuurder op die landgoed.
“Met ’n graad in opvoedkunde het my ouma aan die werk gespring, elf plase in die omgewing betrokke gekry en ’n plaasskool op De Rust gevestig. Sy kon uitstekend organiseer en was ook stigterslid van die Grabouw-Elgin-boerevereniging, wat vandag nog bestaan,” sê Karin.