Mnr. Henry Coetzee, besproeiingsboer van Mahoebe Eiendomme-boerdery, het ’n paar jaar gelede besef daar is nie genoeg mediese geriewe en dokters op Prieska nie.
“Baie noodpasiënte moet dadelik gestabiliseer word, anders kan hulle nie ’n ambulansrit na die naaste hospitaal, wat meer as 200 km van hier is, oorleef nie.”
In 2018, ná ’n ernstige motorfietsongeluk, het hy besluit om aanvoorwerk vir ’n kliniek te begin doen. Coetzee het medeboere en ander gemeenskapslede genader oor sy idee.