Op 6 Oktober 1973 loods Sirië en Egipte, met die ondersteuning van die ander Arabiese nasies, ’n verrassingsaanval op Israel. Dié aanval val saam met Jom Kippoer, die heiligste dag van die Joodse godsdiens en vind ook in die Moslemse heilige maand van Ramadan plaas.
Hierdie hernieude vyandigheid in die Arabies-Israeliese konflik ontketen ongekende ekonomiese druk op die prys van ru-olie. In reaksie op Amerika se hulp aan Israel, verhoog Opul (die organisasie van petroleum-uitvoerlande) die ruolieprys eensklaps met 70% en kom ooreen om hul produksie met 5% per maand te verlaag totdat hul ekonomiese en politieke doelwitte bereik is.
Só ontstaan ’n oliekrisis vir die meeste Westerse lande en die gevolglike skaarste aan brandstof dwing baie regerings om drastiese besparingsmaatreëls toe te pas uit vrees dat hul olievoorrade kan opraak. In Suid-Afrika is die verkoopsure van brandstof van 24 uur elke dag tot 12 uur op weeksdae ingekort.