Ná 48 jaar as Landbouweekblad se geliefde spotprenttekenaar het Fred Mouton (74) se verfkwas finaal stil geraak toe hy op 4 Mei sy jare lange stryd teen kanker in die Mediclinic Louis Leipoldt, Bellville, verloor het.
Fred was ’n besonderse mens met ’n besonderse talent as kunstenaar en een van daardie mense wat ’n mens werklik as onmisbaar kan beskryf, sê Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad.
“Jy kan die redakteur van ’n tydskrif vervang, maar nie iemand soos Fred nie.” Fred het in 1974 by T.O. Honiball as spotprenttekenaar oorgeneem. Soos T.O. het Fred ook aanvanklik bekendheid verwerf vir sy politieke spotprente in veral Die Burger.