
Kokkedoor Vuur & Vlam, kykNET se gewildste koswerklikheidsreeks, beloof vanjaar om meer as net ’n kykgenot-spyskaart te wees met twee nuwe beoordelaars.
kykNET is opsoek na die perfekte span-kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier, wat vurig is om kos oor die kole gaar te maak.
Wat is die verskil tussen hierdie kokke? ’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, terwyl kinkelbraaiers juis gekies word vir hul kwalifikasies en ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
In Kokkedoor Vuur & Vlam moet deelnemers die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braaivaardighede beïndruk.
Basson is nie net een van Suid-Afrika se top-sjefs nie, maar is ook ’n bekende gesig op Afrikaanse televisie as ’n aanbieder vir kykNET se In die Sop-werklikheidsreeks. Sy mede-beoordelaar, Botha, is ’n braai-ghoeroe, oorspronklik van Oudtshoorn, maar hy woon tans in Frankryk waar hy braaisensasie is. Dis juis vanweë sy vindingrykheid en kreatiwiteit oor die kole dat Botha internasionaal die braaivleisvure hoog laat brand.
Kokkedoor Vuur & Vlam sal van Julie op kykNET uitgesaai word en word deur Homebrew Films vervaardig.
Skryf so´ in:
Besoek www.kyknet.tv, stuur ’n video per WhatsApp-boodskap na 064 736 5013 of stuur ’n e-pos na navrae@kokkedoor.tv. Elke persoon se inskrywingsvideo, maksimum drie minute lank, moet die volgende inligting bevat:
• Stel jouself bekend;
• Vertel wie jy is;
• Waar kom jy vandaan;
• Is jy ’n onthou- of ’n kinkelbraaier, en hoekom;
• Hoekom wil jy deelneem.
Reëls:
Jy moet ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie.
Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger wat ’n geldige identiteitsdokument het, kan inskryf.
Vir diegene wat die kortlys haal, sal oudisies in Februarie plaasvind.
Persone wat deurdring om deel te neem, moet gedurende April en Mei in die Kaap-omgewing beskikbaar wees.