Dadelpalms groei op baie plekke in die Republiek, maar om hulle te laat dra, is ’n perd van ’n ander kleur. As die klimaat nie presies reg is nie, is hulle suinig met hul vrugte. Om tot sy volle reg te kom, moet die dadelpalmboom by wyse van spreke met sy voete in die water en sy kop in die hel staan.
Langs die loop van die Benede-Oranjerivier, van Upington af weswaarts, is daar ’n hele paar plekke wat geskik is vir die produksie van dadels. Mnr. R.G. Goosen, verantwoordelike beampte op Upington se navorsingstasie, sê dat daar heelwat welslae op plekke soos Henkries en Pella met dadels behaal word.
Gewoonlik is dit weg van die rivier in ’n dorre klimaat. Ook by Kakamas is daar ’n paar boere wat goeie dadel-oeste behaal. Op die navorsing- stasie is daar ’n plantasie waarin proewe gedoen word.