In Europa strek die Vizsla-honderas se geskiedenis terug tot die Middeleeue, maar in Suid-Afrika is hul spore nog baie vars. Die eerste van dié soort honde, wat eens net Europese koninklikes beskore was, is eers in 1973 die land ingevoer. Hulle het veral oor die afgelope twee dekades plaaslik gewild geraak.
Nou het twee selferkende Vizsla-fanatici, die landboukundige Elmi Lötze en eertydse televisieregisseur Anita Erasmus, saamgespan om die eerste boek oor Hongaarse Vizslas in Suid-Afrika te skryf.
Die voorwoord van hul selfgepubliseerde sagtebandboek, Enjoying your Hungarian Vizsla, is geskryf deur Katalin Poòr, een van die bekendste Vizsla-telers in Hongarye en iemand wat al op haar dag ’n wêreldkampioen opgelewer het.