
Tertkors
680 ml koekmeel
Knippie sout
15 ml strooisuiker
230 g koue botter, in blokkies gesny
80-160 ml yswater
Vulsel
600 g aarbeie, skoongemaak en grof gesnipper
375 ml strooisuiker
60 ml mielieblom
Paar druppels vars suurlemoensap
Kors: Pols die meel, sout, strooisuiker en botter in ’n voedselverwerker tot krummelrig. Voeg die yswater bietjie vir bietjie by en pols vinnig ná elke byvoeging – net tot klam frummels vorm. Keer uit en druk die deeg bymekaar. Bedek en verkoel vir minstens 1 uur.
Smeer ’n losboomtertpan van 20 cm, of spuit met kleefwerende kossproei. Haal die deeg uit die yskas, laat staan ’n rukkie en verdeel dit in twee dele, waarvan die een stuk ’n bietjie groter as die ander is. Rol die grootste stuk deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en voer die tertpan daarmee uit. Sny die kante netjies en prik die boom met ’n vurk. Verkoel terwyl jy die vulsel maak.
Voorverhit die oond tot 180°C. Meng die aarbeie, suiker, mielieblom en suurlemoensap in ’n bak en keer dit uit in die voorbereide kors. Maak dit so gelyk as moontlik bo-op. Rol die orige stuk deeg dun uit en sny dit in lang, reguit repe (jy kan dikker en dunner repe sny en selfs dun repies deeg vleg, soos op die foto).
Versier die tert bo-op in ’n traliepatroon met die repe deeg sodat daar van die vulsel sigbaar is tussen die deegrepe. Voer ’n bakplaat met foelie uit en sit die tert daarop. Bak vir 1 uur, tot die vulsel borrel en die deeg goudbruin en bros is. Haal uit die oond en laat die tert afkoel tot kamertemperatuur voor jy dit sny. Sif versiersuiker oor en sit voor met geklopte room.
Lewer 10-12 porsies.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.