
Kors
60 ml haselneute, gerooster en skille afgevryf
60 ml klapper
625 ml koekmeel
Knippie sout
175 g sagte botter
80 ml strooisuiker
1 eier, geklits
Vulsel
2 eiergele
60 ml strooisuiker
30 ml mielieblom
30 ml koekmeel
300 ml volroommelk
15 g botter
5 ml vanieljegeursel
60 ml dik room
250 g vars aarbeie, in skyfies gesny
Versiersuiker om oor te sif
Kors: Verwerk die geroosterde neute en klapper in ’n voedselverwerker tot fyn. Voeg twee eetlepels van die meel by en pols tot fyn. Meng met die res van die meel en sout en hou eenkant. Verroom die botter en suiker tot lig en romerig en voeg die eier by. Klits goed.
Voeg die droë bestanddele by en maak aan tot ’n deeg. Draai in kleefplastiek toe en verkoel vir minstens 40 minute. Voorverhit die oond tot 190 °C en smeer ’n losboomtertbord van 30 cm liggies met botter. Rol die deeg versigtig op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Voer die tertbord daarmee uit, sny die rante netjies en prik met ’n vurk.
Bak blind vir 15 minute. Haal die papier en bone (of gewigte uit) en bak oop vir ’n verdere 10 minute tot die deeg bros en gaar is. Vir die vulsel: Klits die eiergele, strooisuiker, mielieblom, koekmeel en 60 ml van die melk saam tot glad. Verhit die res van die melk tot net onder kookpunt en voeg ’n deel daarvan by die eiermengsel.
Roer goed en giet alles terug in die kastrol. Verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Prut liggies en hou aan roer vir ongeveer 2 minute. Verwyder van die hitte en roer die botter en vanieljegeursel by. Laat afkoel tot kamertemperatuur, klop die room en vou by die vulsel in.
Giet in die tertkors en verkoel vir 30 minute. Pak die aarbeie bo-op en verkoel. Lewer een groot tert.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.