
Beslag
4-5 appels, geskil, ontkern en in stukke gesny
1 kaneelstokkie
Skeut vars suurlemoensap
100 g botter
180 ml ligbruinsuiker
2 eiers, geklits
500 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
3 ml koeksoda
5 ml fyn kaneel
2 ml sout
Versiersel
1 blik (380 g) karamelkondensmelk
375 ml vanieljebotterversiersel
Beslag: Sit die appelstukke in ’n kastrol saam met die kaneelstokkie, ’n skeut vars suurlemoensap en ’n bietjie water. Verhit tot kookpunt, bedek die kastrol en stoom die appels tot baie sag. Verwyder die kaneelstokkie en dreineer.
Skep die appelstukke terug in die kastrol en druk dit goed fyn met ’n aartappeldrukker. Meet 250 ml van die appelpuree af vir die koek en laat dit eenkant afkoel.
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n koekpan van 22 cm met olie of bespuit met kleefwerende kossproei. Voer uit met bakpapier en smeer of bespuit weer.
Smelt die botter in ’n pan oor matige hitte tot dit borrel. Kantel die pan tot die botter ’n neuterige geur en ligbruin kleur het. Voeg die bruinbotter by die afgekoelde appelpuree en meng goed. Voeg die ligbruinsuiker en eiers by en klits goed.
Sif die droë bestanddele saam in ’n mengbak en voeg die appelmengsel by. Meng tot ’n gladde, dik beslag.
Skep die beslag in die voorbereide pan en smeer gelyk. Bak die koek vir sowat 35 minute tot gaar en ’n toetspen skoon uit die hoogste deel van die koek kom.
Haal die koek uit die oond en laat dit in die pan afkoel tot louwarm. Gebruik die steel van ’n houtlepel en druk daarmee gaatjies in die koek.
Versiersel: Klits die karamelkondensmelk tot glad en smeer dit egalig oor die koek (maak seker dit loop in die gaatjies in wat jy met die lepelsteel gemaak het).
Laat die koek heeltemal afkoel. Smeer nou ’n lagie vanieljebotterversiersel oor die karamellaag en gebruik ’n vurk of lepel om die karamel en botterversiersel liggies te vermeng vir ’n marmereffek.
Sny die koek in blokke en sit voor met koffie of tee.
Lewer 12-14 porsies