
Maar hou maar dop – daar’s altyd ’n paar tannies wat vooraf ’n koek, plaasbrood of ’n pakkie koeksisters of beskuit met haar naam op onder die koektafel laat wegsteek tot afskoptyd – net vir ingeval daar dalk niks oorbly ná die groot stormloop nie.
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n uitgevoerde oondpan met olie of voer 3 muffinpanne met papiervormpies uit.
Sit 375 ml strooisuiker, 375 g sagte botter of margarien, 7 eiers, 750 ml gesifte bruismeel, 15 ml bakpoeier, 2 ml sout, 60 ml melk en 10 ml vanieljegeursel saam in ’n groot mengbak. Gebruik ’n elektriese klitser en klits vir ongeveer 5 minute tot ’n dik, gladde beslag.
Skep in die oondbak (of in die papiervormpies en bak vir 25-30 minute (vir ’n plaatkoek) en 10-15 minute (vir kolwyntjies) tot gaar. Laat afkoel en versier met botterversiersel, roomkaasversiersel, ganache of karamelkondensmelk. Lewer 1 groot plaatkoek of 48 kolwyntjies.
Kombuiswenk
Vir ’n sjokoladekoek, sif 80 ml kakao saam met die meel en vermeerder die melk tot 125 ml.
- Ons het onlangs by die Wes-Kaapse dorpie Philadelphia se bekende kerkbasaar gaan kuier en aan tradisionele treffers gesmul en al die foto’s is daar geneem.