
- 1,8 kg beesstert, in stukke gesny
- Sout en varsgemaalde swartpeper
- Olyfolie, vir braai
- 6 groot preie, goed skoongemaak en in 5 cm-stukke gesny
- 6 heel knoffelhuisies, geskil
- 15 ml komynsaad
- 5 ml gemaalde koljander
- 3 ml droë brandrissievlokkies
- 1 blik (410 g) gekapte tamaties
- 1 bottel (750 ml) rooiwyn
- Knippie suiker
- Water
- Hand vol fyngekapte pietersielie en fyngerasperde suurlemoenskil, om deur te roer
Geur die beesstert goed met sout en peper. Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n groot kastrol en braai die beesstertstukke tot bruin. Skep uit en hou eenkant.
Braai nou die preie en knoffel in dieselfde kastrol tot sag. Voeg die speserye en brandrissievlokkies by en braai tot geurig. Skep die vleis (en enige pansouse wat op die bord afgedrup het) terug in die kastrol. Voeg die tamaties, rooiwyn en ’n knippie suiker by.
Verhit tot kookpunt, verlaag die hitte en prut die beesstert stadig oor lae hitte vir 4-5 uur of tot dit baie sag en lymerig is. (Loer gereeld in die kastrol en vul aan met ’n bietjie water indien dit nodig raak. Veral teen die einde van die kooktyd is die sous geneig om maklik aan te brand.)
Geur na smaak en roer ’n bietjie gekapte, vars pietersielie en fyngerasperde suurlemoenskil by. Sit voor op rys, krummelpap of kapokaartappels.
Lewer 6 porsies
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.