
’n Ander groot liefde in die boerekoskultuur is ingelegde vrugte. In hierdie poeding kombineer ek die twee, en trek vir drywende eilande ’n somerse baadjie aan deur die meringue te vries (of eintlik ’n meringueroomys te maak).
Die nagereg verg wel ’n bietjie werk, maar jy kan die bevrore meringue vooraf maak. Die kombinasie van smake en teksture in die eindproduk is hemels. Probeer dit gerus.
Bevrore meringue
6 ekstragroot eierwitte, teen kamertemperatuur
250 ml strooisuiker
375 ml room
Crème anglaise (dun eiervla)
4 eiergele
125 ml strooisuiker
10 ml mielieblom
500 ml volroommelk
5 ml vanieljegeursel
Karamel
375 ml suiker
125 ml water
60 ml water, ekstra
Om saam te stel
2 ingelegde koejawelhalwes per persoon
125 ml geroosterde pekanneute, fyngekap
Bevrore meringue: Klits die eierwitte in ’n groot bak tot sagte punte vorm en begin die strooisuiker lepel vir lepel byvoeg, terwyl jy aanhoudend klits. Hou aan om die strooisuiker by te klits tot alles gebruik en die meringue dik en blinkwit is.
Klits die room in ’n aparte bak styf en vou dit by die meringue in. Spuit ’n muffinpan se holtes liggies met kleefwerende kossproei en skep die meringuemengsel daarin. Smeer gelyk en bedek met kleefplastiek of foelie. Vries oornag, of tot benodig. (Jy kan die bevrore meringue tot drie dae vooraf maak.)
Crème anglaise: Klits die eiergele en strooisuiker saam tot liggeel. Voeg die mielieblom by en klits deur. Verhit die melk tot net onder kookpunt. Voeg die helfte daarvan by die eiermengsel en roer goed.
Giet die eiergeel-en-melk- mengsel terug in die kastrol met warm melk en verhit stadig oor lae hitte tot die vla net dik genoeg is om die agterkant van ’n lepel te bedek. Verwyder van die hitte, roer die vanieljegeursel by en bedek met ’n stuk kleefplastiek wat jy tot teenaan die vla afdruk (dit sal keer dat die vla ’n dik vel bo-op vorm).
Karamel: Verhit die suiker en 125 ml water saam tot al die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en laat borrel tot dit ’n karamelkleur het. Voeg die 60 ml water by (werk versigtig, dit sal woes begin kook en borrel). Verhit weer tot kookpunt, terwyl jy aanhoudend roer, en laat prut vir ’n paar minute. Hou eenkant.
Om saam te stel: Skep van die crème anglaise in poedingbakkies. Sit ’n bevrore meringue of twee in die vla. Skep twee koejawelhalwes langs die meringue op die vla en drup ’n lepel karamel oor alles. Rond af met gekapte pekanneute en sit dadelik voor.
Lewer 10 porsies