
En as jy dit dan nog met die romerige wit sjokoladeganache versier, is dit vir enige “sjokolis” ’n droomlekkerny.
Bruintjie-kolwyntjies
¦ 100 g donker sjokolade, gekap
¦ 250 ml water
¦ 125 g sagte botter
¦ 310 ml donker bruinsuiker
¦ 3 eiers
¦ 375 ml bruismeel
¦ 125 ml koekmeel
¦ 60 ml kakao
Ganache
¦ 300 g wit sjokolade, gekap
¦ 250 ml dik room
Voorverhit die oond tot 160°C en voer twee kolwyntjiepanne met papiervormpies uit. Verhit die sjokolade en water oor lae hitte tot glad. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Verroom die botter en bruinsuiker tot donsig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg die bruismeel, koekmeel en kakao by en roer net tot droë bestanddele met bottermengsel begin meng.
Voeg die sjokolademengsel by en roer goed tot ’n dik beslag. Verdeel die beslag tussen papiervormpies en bak vir 20 minute tot gaar. Haal uit die pan en laat op ’n draadrak afkoel. Smelt die sjokolade en room stadig oor lae hitte, terwyl jy gereeld roer, tot glad. Laat tot kamertemperatuur afkoel en klop tot lig. Smeer oor die kolwyntjies. Lewer 24 kolwyntjies.