
Hierdie besonderse pampoenpoffertjies is lig en deurdrenk met stroop. Daleen gebruik graag boerpampoen, maar jy kan ook botterskorsie gebruik.
Poffertjies
¦ 750 ml gaar pampoen, fyn gedruk
¦ 2 ekstragroot eiers
¦ 5 ml sout
¦ 500 ml bruismeel
¦ 15 ml bakpoeier
¦ Ongeveer 500 ml olie, vir braai
Stroop
¦ 500 ml suiker
¦ 250 ml water
¦ 125 ml melk
¦ 30 ml botter
¦ Knippie sout
¦ 30 ml karamelgeursel
¦ 10 ml vlapoeier, opgelos in ’n bietjie melk
Poffertjies:
Klop die pampoenmoes, eiers en sout saam. Voeg die bruismeel en bakpoeier by en meng tot ’n gladde beslag vorm. Verhit die olie in ’n pan en braai teelepels vol van die mengsel in die warm olie tot deurgaar en ligbruin. Skep uit met ’n gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier.
Stroop:
Verhit die suiker, water, melk, botter en sout saam tot kookpunt. Voeg die geursel by en verdik die stroop effens met ’n bietjie van die vlapoeiermengsel, indien verkies.
Skep die poffertjies in lotte in die stroop en laat dit toe om oor lae hitte daarin te week tot die poffertjies vol stroop gesuig is. Skep die poffertjies uit in ’n opdienbak en giet alle oorblywende stroop oor. Sit dit warm voor. Lewer 6 porsies.