
Die balans tussen die sterkte en romerigheid is net reg en die geur ongelooflik, veral as jy die hoender oornag marineer.
¦ 8-10 groot, heel hoenderdye
Marinade
¦ Sap van ’n halwe suurlemoen
¦ 5 ml gedroogde brandrissies
¦ 250 ml jogurt
¦ 5 ml sout
¦ 6 knoffelhuisies, fyn gekap
¦ 15 ml garam masala
¦ 45 ml gesmelte botter
¦ 1 brandrissie, ontpit en fyn gekap
¦ 5 cm stuk vars gemmer, geskil en fyn gerasper
¦ 10 ml komyn
¦ Sap van 1 suurlemoen
Kerriesous
¦ 15 ml elk olyfolie; botter; gerasperde, vars gemmer; gekapte, vars knoffel en garam masala
¦ 1 groen brandrissie
¦ 1 blik (410 g) gekapte tamaties
¦ 15 ml tamatiepasta
¦ Sout en suiker na smaak
¦ 250 ml room
Om af te rond
¦ Natuurlike jogurt, suurlemoensap en vars koljanderblare
Pak die hoender in ’n nie-metaal-, oondvaste bak. Meng die marinadebestanddele saam en giet oor die hoender. Maak seker ál die porsies is met marinade bedek. Bedek en verkoel vir 3-4 uur of oornag. Haal die hoender uit die yskas ’n halfuur voordat jy dit wil gaarmaak.
Voorverhit die oond tot 200°C en bak die hoender vir 30 minute in die marinade.
Maak die kerriesous terwyl die hoender bak: Verhit die olyfolie en botter in ’n groot swaarboomkastrol, voeg die gemmer, knoffel, garam masala en brandrissie by en braai vir 1-2 minute. Voeg die tamaties, tamatiepasta, sout en suiker by en verhit tot kookpunt. Laat prut vir ongeveer 10 minute en roer die room by.
Haal die hoender uit die oond en sit die halfgaar hoenderstukke in die kokende kerriesous. Bedek en laat prut stadig vir sowat 1 uur of tot die hoender baie sag en die sous afgekook en geurig is.
Geur na smaak, roer ’n bietjie natuurlike jogurt en vars suurlemoensap deur en strooi vars koljanderblare oor. Sit voor met gestoomde rys. Lewer 8-10 porsies.
Plaaskos
In Plaaskos vertel Arina du Plessis, kosredakteur van Landbouweekblad, van haar grootwordkos, haar oumas se boerekos, haar ma se huiskos en haar vandagkos met die vars geure en smake wat sy ontdek het deur haar loopbaan.
“Die soort kos waarmee ek grootgeword het, is dieselfde soort kos wat ek vandag nog graag maak — net hier en daar met ’n kortpad of ’n moderne kinkel ingeroer. Dis maklike resepte met maklik bekombare bestanddele,” sê Arina.
Die boek bevat haar lekkerste resepte vir elke ete van die dag, en daar is ook afdelings met interessante gebak, smullekker nagereg en ingemaakte lekkernye. Dis ’n moet vir jou kookboekrak! Plaaskos word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R310.