
Beslag
125 g botter
100 g melksjokolade, fyngekap
125 ml sterk koffie
10 ml whisky
60 ml koffielikeur
250 ml bruinsuiker
1 ekstragroot eier
250 ml bruismeel
Koffie-whisky-versiersel
250 g sagte botter
750 ml versiersuiker, gesif
30-45 ml koue, sterk koffie
30 ml whisky of koffielikeur
Voorverhit die oond tot 160 °C en voer ’n standaardgrootte kolwyntjiepan met papiervormpies uit. Spuit elke vormpie liggies aan die binnekant met kleefwerende kossproei.
Sit die botter, melksjokolade, koffie, whisky en likeur in ’n kastrol en verhit stadig oor lae hitte, terwyl geroer word, tot die botter gesmelt is. Voeg die bruinsuiker by en roer tot opgelos. Laat koel die mengsel af vir ’n paar minute en klits die eier by.
Sif die bruismeel in ’n mengbak en voeg die koffiemengsel daarby. Klits tot ’n gladde beslag.
Verdeel die beslag eweredig tussen die 12 papiervormpies en bak vir 15-20 minute, of tot die koekies deurgaar is. Laat die kolwyntjies vir ’n paar minute in die pan afkoel en haal dit dan versigtig uit. Pak op ’n draadrak om verder af te koel tot kamertemperatuur.
Verroom die botter en versiersuiker vir die versiersel goed saam. Meng die koffie en whisky (of likeur) en voeg dit teelepel vir teelepel by die botterversiersel tot ’n smeerbare versiersel verkry word. (Moenie alles op een slag byvoeg nie, jou versiersel sal dalk te pap wees.)
Verkoel die versiersel tot benodig en versier elke kolwyntjie daarmee. Bêre in ’n lugdigte houer.
Lewer 12 kolwyntjies
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.