
Om dit makliker te maak – en ook meer prakties as jy ’n tafel vol mense moet kosgee – braai ek nie elke porsie afsonderlik in ’n pan nie, maar bak alles saam in die oond. ’n Lekker plan vir jou as jy Paasnaweek kuiergaste kry.
6 Paasbolletjies, gehalveer
8 eiers
125 ml melk
60 ml room
5 ml vanieljegeursel
3 ml fyn kaneel
15 ml strooisuiker
Heuning en gekapte neute, om af te rond
Voorverhit die oond tot 160 °C en smeer ’n oondbak met botter. Pak die deurgesnyde Paasbolletjies in die voorbereide bak. Klits die eiers, melk, room, vanieljegeursel, kaneel en strooisuiker saam en giet dit egalig oor die Paasbolletjies. Laat staan vir 5 minute en draai elke Paasbolletjie om.
Laat staan vir nog 5 minute en draai elke bolletjie weer om. Bedek met foelie en laat staan vir nog 5-10 minute sodat die bolletjies die meeste van die eiermengsel absorbeer. Bak vir ongeveer 20 minute en haal dan die foelie af. Bak vir ’n verdere 10-15 minute, tot deurgaar en goudbruin. Haal uit die oond, bedruip met heuning en sprinkel neute oor. Eet dit warm. Jy kan ook bros spekvleis hierby bedien. Lewer 6-8 porsies.
Teken HIER vir ons kosnuusbrief in en ontvang elke twee weke 'n gratis nuusbrief met heerlike resepte en artikels.