
- 250 ml heuning
- 125 ml vars lemoensap
- 60 ml sojasous
- 60 ml suurlemoensap
- 3 knoffelhuisies, gekneus en fyn gekap
- 3 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyn gekap of gerasper
- Hand vol koljanderblare, fyn gekap
- 8 hoenderstukke
- Sout en varsgemaalde swartpeper
- 3 sprietuie, in dun skyfies gesny
Meng ál die bestanddele vir die marinade deeglik saam in ’n groot glasbak. Sit die hoender daarin en bewerk dit met jou hande sodat die hoenderstukke oraloor met die sous bedek is. Bedek die bak met kleefplastiek en laat staan vir 2 uur by kamertemperatuur.
Voorverhit die oond tot 180 °C. Haal die hoenderstukke uit die marinade en pak dit in ’n enkellaag in ’n oondroosterpan. Bedruip met ’n koppie van die marinade en geur na smaak. Wees versigtig met die sout, want sojasous is reeds souterig. Bak vir ongeveer 45 minute of tot deurgaar.
Bedruip die hoender elke 15 minute met ’n bietjie van die orige marinade. Skep die hoender op ’n opdienbord en hou dit in die louoond warm. Giet die pansappe in ’n kastrolletjie en kook dit oor matige hitte vir ongeveer 15 minute tot die sous verdik het. Gooi die sous oor die hoender en strooi die sprietuie oor net voor jy dit voorsit. Bedien met geelrys met rosyne.
Lewer 4 porsies