
200 g botter
1 groot ui, gerasper
2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
500 g skoongemaakte hoenderlewers
60 ml sjerrie
30 ml brandewyn
180-250 ml room
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Verhit die helfte van die botter in ’n pan en braai die ui en knoffel stadig tot sag en gaar. Voeg die hoenderlewers by en braai tot net gaar. Voeg die sjerrie en brandewyn by en laat opvlam.
Laat prut tot die alkohol afgekook is. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Skep die hoenderlewermengsel in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad. Voeg die room in ’n dun straaltjie by terwyl jy dit tot ’n fluweelgladde, smeerbare patee pols.
Geur met sout en vars gemaalde swartpeper en skep in ’n pateebak. Smelt die res van die botter en skep dit versigtig oor die patee. Verkoel tot jy dit voorsit. Lewer 375 ml patee.
Kombuiswenk
Ek geur die botter wat ek op die patee skep met kruie. Dit vul die smaak van die patee aan.
Vars lourierblare werk wonderlik saam met hoenderlewerpatee. Verhit die blare saam met die botter en skep dan ’n blaar of twee op die patee voor jy die botter bo-op skep. Laat die botter stol en verkoel verder tot jy dit voorsit.
Plaaskos
In Plaaskos vertel Arina du Plessis, kosredakteur van Landbouweekblad, van haar grootwordkos, haar oumas se boerekos, haar ma se huiskos en haar vandagkos met die vars geure en smake wat sy ontdek het deur haar loopbaan.
“Die soort kos waarmee ek grootgeword het, is dieselfde soort kos wat ek vandag nog graag maak — net hier en daar met ’n kortpad of ’n moderne kinkel ingeroer. Dis maklike resepte met maklik bekombare bestanddele,” sê Arina.
Die boek bevat haar lekkerste resepte vir elke ete van die dag, en daar is ook afdelings met interessante gebak, smullekker nagereg en ingemaakte lekkernye. Dis ’n moet vir jou kookboekrak! Plaaskos word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R310.