
As jy nie vars pynappel het nie, kan jy ingemaakte pynappelstukkies gebruik.
8 hoenderborsies, in repies gesny
45 ml sojasous
45 ml soet rissiesous
40 ml olyfolie
30 ml heuning
30 ml worcestersous
45 ml suurlemoensap
15 ml gerasperde vars gemmer (opsioneel)
Halwe pak (250 g) spaghetti
1 klein, ryp pynappel, skoongemaak
Olie, vir braai
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Sit die hoenderrepies in ’n glasbak. Meng die sojasous, soet rissiesous, olyfolie, heuning, worcestersous, suurlemoensap en gemmer (indien gebruik) saam en giet oor die hoender. Meng goed deur, bedek en verkoel vir minstens 1-2 uur.
Verhit ’n pot soutwater tot kookpunt en kook die spaghetti daarin tot net-net gaar. Dreineer en spoel af met koue water. Hou eenkant. Sny die pynappel in die lengte in kwarte en sny die harde stronkdeel uit. Snipper die pynappelkwarte in klein stukkies.
Verhit ’n bietjie olie in ’n pan of wok tot baie warm. Lig die hoenderrepies uit die marinade en braai in lotte tot goudbruin. Skep ál die hoender en enige oortollige marinade terug in die pan of wok en voeg die spaghetti en pynappelstukkies by.
Roerbraai vinnig oor hoë hitte tot die sous klewerig en die pasta deurwarm is. Geur met sout en peper na smaak en sit dadelik voor. Lewer 4-6 porsies.