
Vir ’n kaasliefhebber soos ek is dit heeltemal onweerstaanbaar. Die poffers is op hul lekkerste as dit louwarm voorgesit word.
250 ml melk
60 g botter
250 ml koekmeel
5 ml paprika
2 ml elk sout en varsgemaalde swartpeper
4 ekstragroot eiers
250 ml grofgerasperde, beleë cheddarkaas
Olie, vir braai
Verhit die melk en botter in ’n middelslagkastrol tot die botter gesmelt is en die mengsel begin kook. Voeg die koekmeel, paprika, sout en peper alles op een slag by en roer vinnig tot ’n bal deeg vorm wat van die kante van die kastrol loskom. Verwyder van die hitte en laat vir 10 minute afkoel.
Klits die eiers saam en voeg ’n kwart daarvan by die deeg. Klop goed tot gemeng. Voeg nog ’n kwart van die eiermengsel by en klop weer goed. Herhaal die proses tot al die eier gebruik is.
Voeg die gerasperde kaas by en klop weer goed tot die deeg ’n stywe, skepbare mengsel gevorm het. Braai teelepels vol van die deeg in ’n diep pan in matige warm olie tot goudbruin en bros. Dreineer die poffertjies op kombuispapier en sit louwarm voor.
Lewer 30 poffertjies
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.