
Marinade
250 ml dik, natuurlike jogurt
’n Hand vol elk vars koljander- en kruisementblare, fyngekap
1 ryp tamatie, baie fyn gekap
2 groen brandrissies, ontpit en fyngekap
7 ml elk kerriepoeier en garam masala
400 g vars witvisfilette sonder vel of grate, in stukke gesny
Sout en peper na smaak
500 ml gaar basmati-rys
30 ml botter, plus ekstra om te stip
30 ml olie
2 uie, dungesny
15 ml komynsaad
2 kaneelstokkies
4 kardemompeule
15 ml elk fyngekapte knoffel, gerasperde vars gemmer en heuning
250 ml bevrore ertjies
5 ml saffraandraadjies
180-250 ml kookwater
Meng alles vir die marinade goed saam. Geur die vis met sout en peper. Meng die marinade liggies met die vis. Vlok die gaar basmati-rys met ’n vurk en hou eenkant. Verhit die botter en olie saam in ’n pan en braai die uie, komynsaad, kaneelstokkies, kardemom en gemmer stadig saam tot die uie sag is. Voeg die heuning en sout by en braai vir nog ’n paar sekondes.
Voeg die uie-en-speserymengsel by die gaar rys en meng deur. Skep ’n lagie van die geurige rys onderin ’n swaarboomkastrol. Pak ’n lagie van die visblokkies in marinade op die rys en sprinkel ’n derde van die ertjies oor.
Skep ’n lagie rys bo-op, gevolg deur nog ’n laag visblokkies en dan ertjies. Herhaal die lae en eindig met rys en ertjies. Meng die saffraan en kookwater en giet dit egalig oor alles. Stip met botter, bedek en prut oor lae hitte vir 15 minute tot die vis gaar is. Meng liggies deur en sit voor met gekapte vars koljander.
Lewer 4 porsies.