
Botterskorsie-puree
- 30 ml olie
- 5 ml elk komyn en gemaalde koljander
- 3 ml kaneel
- 750 ml botterskorsieblokkies
- 250-500 ml hoender- of groenteaftreksel
- Sout en peper na smaak
- Gekaramelliseerde uie 4 uie, fyngekap
- 60 ml botter
- 45 ml suiker
- Sout en peper na smaak
- 250 ml room
- 125 ml melk
- Pasta 1 pak lasagnevelle
- 1 wiel fetakaas, fyngekrummel
- 125 ml gerasperde mozzarellakaas
- 125 ml fyngerasperde parmesaankaas
- 2 stingeluie, fyngesnipper
Botterskorsie-puree:
Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol.
Voeg die komyn en koljander by en braai liggies tot geurig.
Voeg die kaneel en botterskorsieblokkies by en braai tot die botterskorsie begin verkleur.
Voeg 250 ml van die aftreksel by en verhit tot kookpunt.
Bedek en laat prut tot gaar. (Voeg nog aftreksel by as die botterskorsie begin droogkook.)
Druk met ’n aartappeldrukker fyn en hou eenkant.
Uie:
Braai die uie stadig in die botter tot sag.
Voeg die suiker by en braai tot die uie begin karamelliseer.
Geur met sout en peper.
Meng 125 ml van die room met die melk en voeg dit by die uie.
Verwyder van die hitte en roer die uiesous by die botterskorsiepuree.
Pasta:
Smeer ’n oondbak met botter.
Pak ’n laag lasagnevelle onderin en skep ’n laag van die botterskorsie-en-uiesous oor.
Pak weer ’n laag lasagnevelle.
Herhaal die proses en eindig met ’n dun laag van die botterskorsie-en-uiesous.
Meng die feta-, mozzarella- en parmesaankaas en sprinkel dit oor.
Drup die orige 125 ml room egalig oor en rond af met gemaalde swartpeper.
Laat staan die bak lasagne vir 30 minute en voorverhit dan die oond tot 180 °C.
Bak die lasagne vir 30 minute tot goudbruin en deurgaar.
Sprinkel die gesnipperde stingeluie oor en sit voor met slaai van jou keuse.
Lewer 8 groot porsies.