
Smeerkors
- 60 g botter
- 60 ml suiker
- 1 eier
- 60 ml melk
- 250 ml koekmeel
- 7 ml bakpoeier
Vulsel
- 1,25 liter (5 k) melk
- 15 ml droë laventelblommetjies
- 180 ml suiker
- 30 ml vlapoeier
- 30 ml mielieblom
- 3 eiers, geskei
- 15 ml botter
- 2 ml bakpoeier
- Knippie sout
- 5 ml vanieljegeursel
- Fyn kaneel, om oor te sif
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 2 middelslag-tertpanne of spuit met kleefwerende kossproei. Kors: Verroom die botter en suiker en klits die eier by. Voeg die melk by en klits deur. Sif die meel en bakpoeier oor en klits tot ’n smeerbare mengsel. Verdeel die mengsel tussen die tertborde en smeer dit egalig op die boom en teen die kante van die tertborde.
Verkoel tot benodig. Vulsel: Verhit 1 liter (4 k) van die melk saam met die laventelblommetjies stadig oor lae hitte tot net onder kookpunt. Laat staan vir 5 minute en giet deur ’n fyn sif. Giet die warm, laventelgegeurde melk terug in die kastrol. Meng die suiker, vlapoeier, mielieblom en eiergele saam met die orige 250 ml melk in ’n ander bakkie tot glad.
Voeg 250 ml van die warm melk hierby en meng tot glad. Giet nou alles terug in die kastrol. Verhit oor lae hitte, terwyl aanhoudend geroer word, tot kookpunt. Prut die pap vir ’n minuut of twee en verwyder van die hitte. Klits die eierwitte styf.
Voeg die botter by die vlapap en roer deur. Skep die eierwitte bo-op, sprinkel die bakpoeier, sout en vanieljegeursel oor en vou in tot egalig gemeng. Verdeel die vlapap tussen die twee voorbereide panne en bak vir sowat 35 minute tot goudbruin en ferm. Haal uit die oond en sif fyn kaneel oor. Sit louwarm of teen kamertemperatuur voor.
Lewer 2 middelslag-terte
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.