
625 ml koekmeel
1 pakkie (10 g) kitsgis
7 ml sout
2 ml koeksoda
60 ml warm water
60 ml gesmelte botter
1 houer (250 g) gladde maaskaas
1 ekstragroot eier
60 ml gemengde vars kruie, fyngekap
Kruiebotter
30 ml gemengde vars kruie, fyngekap
45 ml botter, gesmelt
Meng die droë bestanddele vir die brood in ’n groot mengbak. Klits die water, botter, maaskaas en eier saam tot glad en voeg by die droë bestanddele. Meng tot ’n sagte, klam deeg. Knie vir 10 minute op ’n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties.
Voeg nou die kruie by en knie dit goed in die deeg in. Sit die deeg in ’n groot, skoon bak wat met olie gesmeer is en bedek losweg met plastiek. Laat rys op ’n warm plek tot dubbel die volume. Knie die deeg af en verdeel in 8 bolletjies.
Pak losweg langs mekaar in ’n gesmeerde pan en laat rys tot die pan vol is.
Voorverhit intussen die oond tot 200 °C. Bak die brood vir 15-20 minute tot deurgaar. Meng die kruie en gesmelte botter saam en verf dit oor die warm rolletjies. Laat staan vir 10-15 minute en sit louwarm voor met botter en kaas.
Lewer 8 porsies.